Saturday, July 7, 2012

Verskillende Vere

As enige iemand my bietjie meer as 'n jaar gelede gesê het, dat ek 'n entoesiastiese voëlkyker sou word, of in een sou ontaard dalk beter gestel, sou ek dit haastig ontken het, of dalk snedig gelag het ..... So verveeld sou ek nooit wees nie! Lewe is te kort, boeke om te lees, te veel, legkaarte om te bou, kos om te kook, strande om te stap .... Lang "to do" lyste voor ek in die geveerdes geïnteresseerd sou raak. Wel, soos so baie ander woorde wat ek al moes sluk, het bogenoemde ook sommer so droog in die keel afgeglip.


 Dis 'n heel nuwe wêreld wat vir my oopgegaan het. En die ligging van Hangklipweg 262 maak dit so maklik - ek sit in my rooi stoel of op die stoep en sien daagliks nuwe groottes en kleure, hoor ander dialekte of aksente en wanneer boeke of google ingespan word, kan daar ure verbygaan. Oorskiet kos, of broodkrummels of oorryp vrugte word nie weggegooi nie - dit word buite op die stoepie of gras of bietjie laer op die sementblad voorgesit. En Wild Bird Seed is 'n nuwe gereelde item op die inkopielys.


Aan die begin was daar maar die baie mak Kaapse fisante wat sommer uit jou hand uit 'n lepel sou eet, die streepkoppies, kwikstertjies, tiptolle en 'n Jan-frederik of twee. Streepkoppies, Kwikstertjies en Jan-frederik stap sommer deur die huis. Toe begin ons bottels met suikerwater ook ophang en sluit 'n hele nuwe en baie kleurvolle groep by ons aan. Baie mooi vinke of wewers, suikerbekkies, Jangroentjies, glasogies en die BAIE entertaining muisvoëls wat moeilik balanseer om tog ook 'n sopie te kan vat.


Vanmiddag was hier 'n swerm rooibeksysies - hulle is baie klein, maar perfek gemerk met 'n rooi kol op die magie om by die rooi gesiggie te pas.

My ander huidige gunstelinge, is die Kaapse Kliplyster en die Waterfiskaal. Maar ..... Môre sluit iets meer kleurvol of luider dalk by ons aan .... Rooi-oog-Kransduiwe of Rooi-vlerkspreeus sal egter altyd gejaag word - die mafia van die voëlwêreld.


En ja, ek praat met my voëls, uh huh, my voëls. En hulle antwoord my, en hulle roep my soggens as ek te laat lê en hulle pose soms vir foto's en hulle is baie gelukkig wanneer ek hier is. Hulle waardeer my.


En dan is daar die streepmuisgesin .... Hulle ... sal later oor hulle skryf.


Nagedagte: dink nie die spreeus en kransduiwe hou van my nie - ek voel vere. Ons sal nooit voëls van eenderse vere wees nie.  Hierdie een het misbruik gemaak van die feit dat ek nooit die sysietjies sou wegjaag nie!


1 comment:

  1. En toe gaan ek gisteroggend by die Country Shop in. En hoor hoe die omie, wie se dogter in Kuwait woon, vir sy vrou sê: ( sy is die oulike een van die twee, en sy bry!) "Netta, die vetvretertjie het nou saam met die gewone mossie ingekom" .... En hy lyk toe so happy, en ek besef toe hy praat oor voëls, hmm, duh, Mossie!

    Wel, duh! Ek sien toe dis nie 'n mossie nie, want ek begin toe uitvra ... En ek sien toe, toe hy "daarie een" wys as die mossie, dat dit 'n streepkoppie is. So ... Nou kyk ek uit vir die vetvretertjie (of gegoogle, Spekvretertjie), en hy lyk na iets tussen die Jan-Frederik en iets valers, maar die kenmerk is blykbaar die koddige gewaggel ... So ek moet regtig vir hom uitkyk. Want .... Daar's ook die heerlike stories oor die Spekvretertjies, of Oupa Country Shop se vetvretertjies, en dit van die Voortrekkers se dae af. Hulle het die vet wat die Voortrekkers aan die wiele van die ossewaens gesmeer het, afgevreet ... En dit so al met hulle snaakse waggel dansery saam. So, almal hier rond ken dit en kyk daarvoor uit, wel seker al wat 'n voëlkyker behalwe ek, so .... Ek kyk, ironies genoeg nou ook verder as die spieël uit vir "vetvretertjies" met 'n snaakse waggelstappie! Hahahahahahaha vir al die maeres met sexy swaaistappies.

    ReplyDelete