Wednesday, March 14, 2012

Alleen in 262

Dis uiteindelik sterk skemer. Hoogtyd, is Maart en al na half-agt. Ek is hier. Stoksielalleen, geen addisionele musiek, paar besies, kan nie sonbesies wees nie - geen son meer, laaste voël roepe - gaan die maat antwoord of terugkom? Word nou vinnig donker, regtig DONKER. Soos dit hier word. En so stil .... Is so pas 'n kar verby, so gewone een ... Mens kan dit net hoor. Niks fancy aan daai enjin nie.

Was 'n soel WARM middag toe ek hier aankom. Herinner aan FA Venter se titel. Warm as - nie lekker nie, moeg en klaar en wat nou?

Maar nou's ek hier met die aand. Die warm as middag het verbygegaan. En nogal vinnig, hoor. Kla behoort glad nie deel van hierdie skrywe uit te maak nie. En ek het uiteindelik my koue wyntjie na die yskas BAIE lank geneem het om die wyn koud te maak en nog langer om ys te maak. (en skielik hoor ek die branders baie duidelik - nou-nou nog kon ek nie juis noemenswaardige branders sien nie, maar nou, hier in die donker hoor ek hulle en ruik ek hulle.

Dis 'n fees - hoekom dink mens jy't meer nodig?

My schnitzel is gereed, my aartappel gaar en my beetslaai is mooi rooi op my wit bord. Jip, hoe baie het ek nie nodig nie .....