Hierdie week was te vol skakels met mense wat baie seer en stres het. Teen Donderdagaand was ek lus om my ore toe te druk, my oë toe te knyp en agter iets weg te kruip. Wou nie van nog pyn of verdwasing of moedeloosheid of bekommernis hoor nie. Wil gek word as ek met die gewone man en tiener klagtes gekonfronteer word. Hoe werk grade van hartseer? Kan mens dieselfde emosie uitkry ten opsigte van kollegas wat irriteer en iemand se kollega wat wegval?
Met my gaan dit goed. Met my onmiddellike kringetjie geliefdes gaan dit goed. Teresa se man, Rick se besigheidsvennoot is Saterdag oorlede, toe sterf sy broer die Maandagmiddag en moes hulle inderhaas huis toe vir die begrafnis. Tannie Zella het weer kanker en die dokters kon nie alles verwyder nie en nou lê chemoterapie voor. Annabie, Mala, Tertia en Suzelle is verstom, verward, bang, hartseer, kwaad? Julene kry baie swaar met haar tienerseuns, terwyl Anwar Rick se besigheid moet laat aangaan nadat Dave dood is en Rick sy broer moes gaan begrawe. Marga is finaal geskei. Dierbare Ouma Cherry kuier hier by Debbie en sy en Oupa Handel sou die week 49 jaar getroud gewees het. Lizzie kry 'n nare hypo aanval tydens ons klas Dinsdagoggend. Frieda Sellers word opgeneem nadat haar chemoterapie weer nare newe-effekte het.
Is dit 'n gevoel van magteloosheid wat my my ore wil laat toedruk? Is dit 'n skuldgevoel wat my my oë wil laat toeknyp? Of ... Gee ek hopelik net soveel vir hierdie mense om dat my energie net tydelik gesteel word of gewoon opraak? Dat ek hulle hartseer bekers help drink en ek maar net bietjie versadig is? Dat my batterye weer sal laai en ek weer baie sal kan gee? Agter die klip sal uitkom met oop oë en oop ore ... en oop arms? Dat ek hopelik weer sonder irritasie sal kan luister na klagtes sonder om te kategoriseer of prioritiseer?
Ja wat ... Watter alternatief is daar tog elk geval wat nie bitter maak nie? Hopelik bring hierdie week meer goeie nuus as hartseer of slegte nuus. E-pos van klein Pippie se ma wat laat weet dat dit met haar beter gaan, is dalk die inleiding van 'n goeie week.
No comments:
Post a Comment